‘N VROU GENAAMD ‘VOËL’!

Dit het my nog altyd ge-‘tickle’ hoe geliefdes byname vir mekaar uitdink en natuurlik wat die oorsprong daarvan is.

Ek is altyd lugtig om uit te vra, want miskien het die byname hulle oorsprong agter die toe deur met die das wat aan die handvatsel hang – en dan wil ek weet, maar ook nie weet nie ….intussen vrek ek van nuuskierigheid. Soveel dae en soveel dinge. Miskien het jy ook al oorweeg om die dame in jou lewe ‘Katvis’ of ‘Prampie’ te noem. ‘Parra’ is ook nogal gewild en soms ook ongemaklik as jy in uitgelese geselskap is.  Self giggel ek baie as daar so ge-‘Baby’ word.  Ek dink die nuwe Afrikaanse sangers het daardie woord al kotsenswaardige status gegee.  Hoekom dink geliefdes nie bietjie meer alternatief nie? ‘n Manlike pastoor wat gereeld ‘n draai in my Stiltetyd kom maak noem sy pastoorsvrou ‘Voël’.  Hierdie een kry ek moeilik onder die knie. Dit was moontlik die duiweltjie agter sy oor wat vir hom die bynaam gefluister het.  Ek glo egter dat vele mense al omgekyk of net die oë gerek het as daar na ‘Voël’ geroep word! Ek brand van nuuskierigheid om te weet, maar ek vrek voor ek vra, want daar sal seker ‘n baie logiese verklaring voor wees: sy is moontlik ‘n ongeluksvoël, opgaarvoël en fladder rond soos ‘n voël, ens.  Dit bly kosbaar en ek hoop nie dat sy die huis soos ‘n Vink uitmekaar ruk nie. My gunsteling bly ‘Gog’. Dit sê soveel en sê so lekker – dit is onsydig, onpartydig en neem nie aanstoot nie.  Dit dui op ‘detail’ – kan in liefde of haat gesê word en selfs in die kerk in jou geliefde se oor gefluister word. Probeer bietjie ‘Bok’ vir ‘n paar dae uit. Dan kan jy altyd Bok-Bok-staan-styf-hoeveel-vingers-op-jou-lyf, speel …

Armand Cloete
Sosiale Media- en nuusredakteur at Radio Rosestad 100.6FM
Armand Cloete is sosiale media- en nuusredakteur by Radio Rosestad.

Pin It on Pinterest

Shares
Share This