DIE GROOTSTE HIERVAN…R.I.P

Darem vreemd hoe die liefde soos ‘n pers kombers oor mens kan kom lê.  Soms kry mens warm en dan skop jy jou bietjie oop en ander aande is die windjie weer skraal en wikkel jy jou stywer toe. Ek het altyd leedvermakerig na mense gekyk wat so erg is oor hulle honde. ‘And then there was Beulah’. ‘n German Shorthaired Pointer met ‘n hartjie-kol op haar sterre. Beu was opvreetpragtig met epilepsie, Parkinsonskoppie, koeël in die voorbeen en al.

Vandag is dit net met ‘n nattigheid in die oë dat ek aan haar kan terugdink, want sy is op 14 Februarie hondehemel toe.  Praat kan ek nie eintlik daaroor nie en skryf nog minder, want sy hardloop daagliks met haar bruinlyf deur my gedagtes en kyk my diep in my oë.  Net vir ingeval ry ek met ‘n toiletrol in die motor rond, vir wanneer die hartseer kom… oor jou kan ek nie met snesies huil nie. Beautiful Beulah jy sal altyd die ‘one and only’ wees. Ek het ‘n belofte aan myself gemaak – nooit weer sal ek ‘n mens of dier so liefhê nie.  By die kosbak was jy eerste en vreeslik lief vir groente. Soetgoed was jou swakpunt en jy het selfs ‘hot chocolate’ vir ontbyt gekry.  Hamburgers was x 4 in ons huis, want Beu het haar ‘fare share’ gekry.  Het gehoor van ‘n ‘dog whisperer’, maar was te bang om die waarheid oor B se siektetoestand te hoor. Het dus verbygehou. Om nie te weet nie is beter as om te weet. Vandag is sommer weer een van daardie dae wat ek  huis toe wil gaan sodat jy met jou 36kg bo-op my skoot kan klim – maar jy is nie meer daar nie. Jy gaan nooit weer daar sal wees nie. Maar daar sal altyd ‘n ereplek op my perskombers wees … net vir jou. Mense word gebore sodat hulle kan leer hoe om goed te lewe en almal lief te hê. Honde weet reeds hoe om dit te doen en daarom hoef hulle nie so lank op aarde te bly nie! Hoop iemand gaan draf elke aand met jou. R.I.P (O ja, dankie dat jy die pofadder van my af weggehou het.)
Jeannette Geldenhuys
Jeannette is in hart en siel 'n Vrystaatse nooi. Haar skoolloopbaan voltooi sy aan Hoërskool Staatspresident Swart op Brandfort waar haar ouers besigheidsmense was. Sy was betrokke by die destydse Radio Oranje en ek het ook deel uitgemaak van die RSG senderskeidings in die Noord Kaap. “Ek beskou myself as 'n stemkunstenaar, seremoniemeeser en motiveringspreker. Liefdadighede is my ander passie en ek is tans betrokke by Angel Hearts - 'n private werkswinkel vir gestremde persone.” Jeannette spog met twee pragtige dogters, Imke wat haar eie bemarkingsbesigheid het, en Nelien wat nagraads studeer en eersdaags na Nederland vertrek. Sy is op 25 Julie 2015 getroud met Hendri Smit en is geweldig opgewonde oor hierdie nuwe hoofstuk in haar lewe.

Pin It on Pinterest

Shares
Share This