Dubbele standaarde jeens rassisme – Afriforum

AfriForum het hom sterk teen alle vorme van rassisme uitgespreek en die publiek aangemoedig om hulle nie tot rassistiese kommentaar te wend wanneer hulle hul frustrasies met die toestand in Suid-Afrika uitspreek nie.

Die adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, Ernst Roets, sê in ‘n verklaring alle vorme van rassisme moet met dieselfde mate van afkeur veroordeel word, maar die dubbele maatstawe wat in Suid-Afrika gehandhaaf word wanneer dit by kwessies soos rassisme en aanhitsing kom, is egter skreiend.

Hy sê dit wil voorkom asof baie van die meningsvormers en organisasies wat hulle so sterk teen wit rassisme uitspreek, swyg wanneer swartmense hulle aan dieselfde gedrag skuldig maak.

Die geskorsde ekonoom van Standard Bank, Chris Hart

Die geskorsde ekonoom van Standard Bank, Chris Hart

Dit volg nadat Standard Bank sy ekonoom, Chris Hart, geskors het oor ‘n twiet met rassistiese ondertone wat hy Sondag uitgestuur het.

Volgens die bank sal die skorsing geld totdat ‘n ondersoek na die kwessie afgehandel is.

Hart het in sy boodskap op Twitter gesê meer as 25 jaar nadat apartheid geëindig het, vermeerder die slagoffers tesame met ’n gevoel van geregtigheid en haat teenoor minderhede.

Die bank het hom gister in ’n verklaring van Hart gedistansieer.

Intussen sê die KwaZulu-Natalse eiendomsagent, Penny Sparrow, wat ’n rasseherrie deur ’n Facebook-inskrywing ontketen het, sy het bloot die feite gestel.

Sy het swart strandgangers as ape beskryf in ’n klaarblyklike reaksie op rommel wat gestrooi is ná Nuwejaarsvieringe op die Durbanse strande.

Penny Sparrow

Penny Sparrow

Sparrow sê sy het ’n verskoning geplaas om te sê dat sy dit nie persoonlik bedoel het nie.

Die DA het Sparrow, een van sy lede, vandag van crimen injuria aangekla, terwyl haar DA-lidmaatskap ook opgeskort is.

Jawitz Eiendomme, vir wie Sparrow tot in November as ’n eiendomsagent gewerk het, oorweeg ook stappe teen haar weens die skade wat haar uitlatings die maatskappy se aansien berokken het.

Die minister van Behuising, Lindiwe Sisulu, het die Raad op Eiendomsagente gevra om ondersoek in te stel na die eiendomsagent, Penny Sparrow, se beweerde rassitiese aanmerkings op sosiale media.

Die raad is versoek om daarna die nodige stappe teen Sparrow te doen.

 

 

Armand Cloete
Sosiale Media- en nuusredakteur at Radio Rosestad 100.6FM
Armand Cloete is sosiale media- en nuusredakteur by Radio Rosestad.

Pin It on Pinterest

Shares
Share This