2 UV-studente veroorsaak rasseherrie tydens Varsitybeker-wedstyd

2 UV-studente veroorsaak rasseherrie tydens Varsitybeker-wedstyd

Die Universiteit van die Vrystaat probeer twee studente opspoor wat ’n rasseherrie op Facebook veroorsaak het deur slegs die Afrikaanse deel van die
volkslied voor ’n rugbywedstryd te sing.

Netwerk24 berig die twee jong mans, in alle waarskynlikheid studente, is op video vasgevang waar hulle sit en gesels terwyl die volkslied gesing word, maar dadelik op aandag staan en saamsing wanneer die Afrikaanse gedeelte van die lied gespeel word.

Die voorval spruit uit Shimlas se Varsitybeker-kragmeting die afgelope Maandagaand met die Universiteit van Johannesburg op Shimlapark.

Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, het Dinsdagaand laat die video op sosiale media geplaas en dit het meestal aanvallende kommentaar ontlok.

Die Universiteit van die Vrystaat se woordvoerder, Lacea Loader, sê intussen
dat dit nie duidelik is of al die persone in die video geregistreerde studente aan die UV is nie.

Die uitvoerende bestuur van die UV is van mening dat, hoewel dit onopsetlik mag wees, die boodskap wat deur die optrede van die individue oorgedra word, oneerbiedig teenoor die volkslied van die land is.

Die vermoedelike studente het op Facebook hewig onder die kritiek van sowel wit as swart mense deurgeloop.

Netwerk24 berig die woord “rassisme” is deur baie mense gebruik wat kommentaar gelewer het om hul optrede te beskryf.

Daar is selfs voorgestel “Die Stem” (die Afrikaanse gedeelte van die volkslied) moet uit die lied verwyder word.

Gerdie Karstens
“As jy nie staan vir enige iets nie, sal jy val vir enige iets.”
Gerdie is nie net die aanbieder op Rosestad tussen 09:00 en 12:00 (weeksdae) nie , maar ook sportjoernalis wat spog met 10 jaar ondervinding in sportjoernalistiek by Media 24. Hy is ‘n oudleerling van die Hoërskool Sand du Plessis en het ‘n BA-graad in taalstudie aan UVS ontvang. Gerdie is getroud met Tracey, en hulle twee dogters, Marelize en Elmé

Pin It on Pinterest

Shares
Share This