ANC se herroepingsbrief is by Zuma afgelewer

ANC se herroepingsbrief is by Zuma afgelewer

Die ANC se sekretarisgeneraal, Ace Magashule en sy adjunk, Jessie Duarte,
het na wat berig word vandag die party se herroepingsbrief aan president Jacob Zuma by sy presidensiële ampswoning in Pretoria oorhandig.

Die nasionale uitvoerende komitee het gister tydens ʼn vergadering, wat 13 uur geduur het, besluit om Zuma te herroep.

Indien hy weier om te bedank mag die party ʼn parlementêre mosie van wantroue in hom stel.

Die ANC sal sy besluit oor die toekoms van Zuma vanmiddag om twee uur bekend maak.

ʼn Politieke ontleder glo egter die einde is in sig vir die president.

Professor Barry Hanyane sê dis duidelik dat Zuma van plan is om tot die einde toe te veg.

Intussen sê die Suid-Afrika Eerste Forum dat Zuma die ANC en Suid-Afrika vir die grap hou.

Die forum se Rod Solomons sê dit is duidelik dat die regerende party se nasionale uitvoerende komitee te swak is om met ʼn hardkoppige Zuma te
onderhandel.

Die kantoor van die ANC se hoofsweep, Jackson Mthembu, het bevestig dat ʼn spesiale parlementêre koukusvergadering vir tienuur môreoggend belê is.

Anton Smith
Anton Smith is op 2 November in Port Elisabeth gebore. Op sesjarige ouderdom verhuis die Smith-gesin na Bloemfontein, waar hy sy skoolloopbaan aan Grey-kollege sluit. Daarna doen hy sy diensplig by die Lugmag. Na die voetestamp studeer hy aan die Universiteit van Stellenbosch waarna hy vanaf 1980 in die uitsaaibedryf betrokke is as radio en TV-aanbieder, radiodramaregisseur en nuusjoernalis. Hy was betrokke by die SAUK se RSG en TV, OFM as programdirekteur en tans Radio Rosestad. Anton is `n skrywer, akteur, stemkunstenaar en hou van skilder. Hy het twee dogters, Imke en Nelien.