Woedende boere op Heilbron in die Vrystaat gaan alles moontlik doen om eksplorasie-werk in die soeke na aardgasse daar stop te sit.
Die soektog na aardgasse in die Vrystaat en KwaZulu-Natal word met ál meer teenkanting begroet omdat inwoners bang is hidrobreking sal gebruik word om die gasse te ontgin.
JC Pretorius van SLR Consulting, wat ’n omgewingsimpakstudie in opdrag van Rhino Oil and Gas Exploration SA moet doen, het erge teenkanting van boere gekry.
’n Geoloog en grondeienaar in die distrik Heilbron, Francois Martens, het Dinsdag namens Vrystaat Landbou ’n sterk bewoorde brief aan SLR Consulting en Rhino Oil and Gas SA geskryf waarin die VL duidelik sê dié organisasie sal sy bes doen om die soektog na gasse in die Vrystaat stop te sit.