’n Bordeelbesoeker het sy been gebreek toe ’n gesamentlike operasie op ’n bordeel in Kaapstad se sakekern uitgevoer is.
Vier prostitute is in die klopjag in hegtenis geneem, maar by nadere ondersoek het die beamptes ’n voornemende kliënt in een van die kamers opgespoor.
Die kliënt was so haastig om van die gereg te ontsnap dat hy deur ’n venster op die bordeel se tweede verdieping gespring en sy been gebreek het toe hy die grond tref.
Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, is die pyn die enigste straf wat hom opgelê gaan word omdat die wet stipuleer dat ’n prostituut se kliënt net aangekla kan word as hy op heter daad betrap word.
Volgens Smith sou die man waarskynlik nie so waaghalsig gewees het as hy met daardie kennis toegerus was nie.