Die Gupta media-maatskappye, The New Age-dagblad en die ANN7-tv nuuskanaal, het ná ’n ontmoeting vroeër vandeesweek met die ANC ooreengekom om ’n verskoning te publiseer en uit te saai oor foute in hul beriggewing verlede week.
ANN7 en The New Age het onder meer berig dat daar faksies binne die ANC is en dat daar ’n komplot is om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak.
Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, is deur die koerant en tv-kanaal onder meer voorgehou as die groot rolspeler wat sy steun agter adjunk-president Cyril Ramaphosa ingegooi het sodat Zuma onttroon kan word.