Kindersbeskermingsweek: Die video wat elke ouer moet sien

Met kinderbeskermingsweek (28 Mei tot 4 Junie) is dit belangrik vir ouers om bedag te wees teen veral die gevare wat sosiale media vir kinders kan inhou.

Met hedendaagse tegnologie en die toeganklikheid van persoonlike inligting op sosiale mediaplatforms, word dit toenemend belangrik dat ouers hulle kinders moet moet inlig oor die gevare van persone wat sosiale media misbruik.

Hierdie video wys hoe maklik dit is vir pedofiele om op Facebook met kinders kontak te maak:

 

Volgens Nadia Kuit, maatskaplike werker by Engo in Bloemfontein, word selfone daagliks gebruik om kinders te kontak wanneer hulle weg van die huis is.   Kuit het ‘n paar wenke gedeel om jou kinders te beskerm:

Die gevaar van interaksie met vreemdelinge

Kinders kan dit soms moeilik vind om vriende en vyande uitmekaar te ken op sosiale media. Sommige tieners voer daagliks aanlyn gesprekke met persone wat hulle nog nooit in persoon ontmoet het nie. Dit kan verskeie gevare inhou wat ontvoering, mense handel en prostitusie insluit.

Dit is belangrik dat ouers bewus is van watter “apps” hulle kinders gebruik en waarvoor hulle daardie “apps” gebruik.
Verduidelik aan jou kinders dat hulle geen interaksie met ‘n vreemdeling mag hê deur middel van sosiale media nie en maak dit duidelik dat baie mense wat op sosiale media verskyn nie noodwendig is wie hulle sê hulle is nie.

Die blywende mag van sosiale media – oorweeg die toekoms

Ouers moet seker wees kinders verstaan watter impak sosiale media werklik het. Enige iets wat op sosiale media geplaas word, bly daar. Dit kan later in jou lewe negatiewe gevolge hê. ‘n Foto kan aan een persoon gestuur word en van daar deur die hele web versprei word. Sexting vind al hoe meer plaas onder tieners. Ouers moet hulle bewus maak van die gevolge wat dit kan inhou op die lang termyn.
Verkeerde foto’s kan in die hande van universiteite, werkgewers ens. beland

Kuber boelies

Daar bestaan verskeie anonieme “apps” en webtuistes waar individue vrae kan vra en inligting aan ander kan verskaf. Hierdie anonieme “apps” kan gevaarlik wees aangesien dit kuber boelie bevorder. Boelies vind dit maklik om ander te terg en af te kraak wanneer hulle agter ‘n rekenaar skerm kan wegkruip.
Ouers kan ‘n stel reëls aan hulle kinders verskaf oor die gebruik van sosiale media. Hierdie reëls behoort die volgende in te sluit:
• Gaan dit wat jy op sosiale media sê iemand se gevoelens seermaak
• Hoe sou jy voel indien jy so ‘n boodskap ontvang
• Bedreig jy iemand op enige manier
• Voel jy op enige manier bedreig
Ouers moet kinders aanmoedig om nie te reageer op boodskappe van kuberboelies nie maar om dit dadelik aan te meld by iemand wat hulle vertrou.

Aanlyn video speletjies

Ouers moet bewus wees van die speletjies wat kinders aanlyn speel aangesien aanlyn speletjies die kind direk verbind aan die internet en ook aan ander spelers. Sommige van hierdie speletjies het ouderdomsbeperkinge op en is nie geskik vir jonger kinders nie.
Wees bewus van die ouderdomsbeperkinge op speletjies.

Selfone

Selfone word daagliks gebruik om kinders te kontak wanneer hulle weg van die huis is. Ouers moet in ag neem dat selfone in vandag se dae oor GPS beskik en kinders kan dus sodoende maklik hulle presiese ligging bekend maak op sosiale media. Op so manier kan ontvoerders hulle maklik in die hande kry.

Wetgewing

Dit is onwettig om naakte fotos te versprei van enige persoon onder die ouderdom van 18 jaar oud, al is dit van jouself. So ‘n persoon kan homself skuldig bevind aan die verspreiding van kinderpornografie.

Rosestad 100.6 Cell C Smartdata

Armand Cloete
Sosiale Media- en nuusredakteur at Radio Rosestad 100.6FM
Armand Cloete is sosiale media- en nuusredakteur by Radio Rosestad.

Pin It on Pinterest

Shares
Share This