Die Studenteraad (SR) van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het gister die eerste van gesprekke gereël om oor hul ontevredenheid teenoor die UV, asook rassisme en die chaos wat verlede week op die kampus gewoed het, te praat.
Die SR-voorsitter, Lindokuhle Ntuli, het voor sowat 230 studente gesê daar sal aanhou baklei word totdat hulle nie meer deur die stelsel onderdruk word nie.
Studente het die kans gekry om hul menings te lug en vrae te vra wat die SR dan aan die UV-bestuur sal vra.
Baie van die studente het gevoel dat swart studente op kampus steeds onderdruk word, omdat die UV voorheen ’n Afrikaner-universiteit was en steeds dié beeld handhaaf.
Veral prof. Jonathan Jansen, rektor en visekanselier van die UV, het erg onder kritiek deurgeloop.
Netwerk24 berig toe een student opstaan en sê dat hy Jansen as leier respekteer, het die studente opgestaan en uitgestap en geskree dat Jansen nie hulle respek verdien nie.