Die Vrystaatse premier, Ace Magashule, sê die plaaslike regering gaan 28 Kubaanse dokters by gesondheidsgeriewe in die provinsie aanstel ongeag die bohaai wat die DA daaroor opskop aangesien die ANC-beheerde regering aan bewind is.
Magashule het gereageer op besware wat in die lewering van die provinsiale rede verlede week in die Vrystaatse wetgewer gelug is.
Hy het die DA gekritiseer en gesê die provinsiale regering sal voortgaan om Kubane aan te stel ongeag die kritiek van opposisiepartye.
Magashule het ook die DA beskuldig van skynheiligheid en dubbele standaarde nadat die party strafregtelike klagte by ’n Kaapstadse polisiekantoor teen die EFF ingedien het oor die onlangse beweerde aanhitsing van geweld.
Die klagte het gevolg nadat een van die leiers van die EFF ’n boodskap op sosiale media geplaas het oor hoe om ’n petrolbom te maak.
Netwerk24 berig volgens Magashule sal die DA by die ANC om hulp aanklop wanneer die EFF grond van sy lede wil afneem.