Nkandla-uitspraak: “Zuma het Grondwet geskend”

Nkandla-uitspraak: "Zuma het Grondwet geskend"

Die Konstitusionele Hof het in ‘n verdoemende uitspraak bevind dat president Jacob Zuma​die Grondwet geskend het deur nie die Openbare Beskermer se korrektiewe aanbevelings te eerbiedig nie.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng​het in ‘n eenparige uitspraak van ‘n volbank van elf regters bevind dat Zuma en die Parlement ongrondwetlik en onwettig opgetree het toe hulle geweier het om gehoor te gee aan advokaat Thuli Madonsela​se bevindings oor Nkandla​.

Die hof het beslis dat die Nasionale Tesourie ‘n redelike bedrag vir Nkandla moet bepaal en binne 60 dae aan die hof verslag doen oor wat hulle bevind het.

Wanneer die hof dít goedkeur, moet Zuma persoonlik binne 45 dae vir die opgraderings aan Nkandla betaal.

Zuma móét die ministers wat Nkandla goedgekeur het, aanspreek, en die parlement se resolusie om Zuma kwyt te skeld, is ongrondwetlik en word geskrap.

Die president, die parlement en die polisie moet die koste van die aansoeke betaal.

Die tesourie moet die koste bepaal van die gelyste opgraderings aan Nkandla.

Die DA het kort ná die uitspraak in ‘n verklaring gesê die party gaan begin met die proses om Zuma in ‘n staat van beskuldiging te plaas ingevolge Art. 89 (1) van die Grondwet.

Die party se leier, Mmusi Maimane​, sê die hof se deurslaggewende uitspraak bevestig die DA se standpunt nog al die tyd dat Zuma die Grondwet ernstig geskend het weens sy ondermyning van die Openbare Beskermer se regstellende stappe.

Hy sê indien hy Zuma was, sou hy begin het om sy bedankingsbrief voor te berei.

Armand Cloete
Bemarkings Bestuurder at Radio Rosestad 100.6FM
Armand Cloete is die doodgewone man op straat wat soos almal verstom staan oor alles wat in die wêreld aangaan. Hy hou van dink en redeneer, soveel so dat dit sommige mense kan frustreer. Armand glo egter deur die regte vrae te vrae, kan jy dalk bietjjie nader aan waarhede kom. Hy was voorheen ‘n aanbieder by Radio Rosestad en tussen deur ook navorser en skakelbeampte by die Demokratiese Alliansie. Armand kon na drie jaar in die politiek nie meer die radio-gogga ignoreer nie en is nou ‘n voltydse politieke verslaggewer.

Pin It on Pinterest

Shares
Share This