Na die besluit om Maandag se Varsitybeker-rugbywedstryde almal in die Kaapstad-stadion te speel, moes daar vanweë die optrede van Lionel Richie intussen weer daarvan afgewyk word.
Richie tree volgende Vrydag op en die verhoog moet glo reeds Maandag gebou word.
Dié wending bring mee dat al Maandag se wedstryde, behalwe die stryd tussen die Ikeys en Maties, in die FNBstadion in Soweto gespeel word.
Die Maties en Ikeys sal mekaar op Nuweland in Kaapstad die stryd aansê.
Om veiligheidsmaatreëls sal geen toeskouers by enige Varsitybeker-stryd toegelaat word nie, maar sekere wedstryde sal egter op televisie uitgesaai word.
Die wedstryde tussen die Ixias en Shimlas, Tuks en die Universiteit van Johannesburg en Pukke en Madibaz sal in die FNB-stadion beslis word.
Marius van Rensburg, voorsitter van die Universiteit van die Vrystaat se rugbyklub, het aan Netwerk24 gesê dit is ’n reuse-verligting dat die reeks kan voortgaan.
Lou Niewoudt, voorsitter van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie se rugbyklub, is ook bitter bly dat dit voortduur, maar het bygevoeg sonder die toeskouers verloor mens ’n bietjie van die siel van die reeks.