ONS KORT ‘N STAATSHOOF, MNR ZUMA

Jacob Zuma

Geagte Mnr Zuma

Vanaand is ‘n belangrike aand vir jou – dalk die belangrikste aand in jou politieke loopbaan. Hopelik bly die EFF vanaand (vir eers) stil, sodat Suid-Afrika kan hoor waarheen jy ons gaan neem.

Want tans voel dit of ons net agteruitgaan. Die afgelope maand en ‘n half het jou party en politieke vennoote niks anders op hulle politieke agenda gehad as ras nie.

As dit so is dat julle in julle jaarbeplanning daar in jou kantoor in Nkandla besluit om ras as ‘n verkiesingsboodskap te gebruik, wil ek jou gelukwens, want dit werk. Dit werk egter net vir die ANC

Dit was egter ietwat voorspelbaar. Niemand in die ANC het daadwerklike antwoorde op die ware kwessies in Suid-Afrika nie. En wie kan die ANC óf jou kwalik neem? Enige iemand wat so hard moet werk om vure dood te slaan oor die hele Nkandla-sage, sal wienig tyd hê om nog by leierskap ook uit te kom.

Daar was ook die hele Nhlanla Nene-episode wat jou ook sekerlik vir twee weke lank slapelose nagte gegee het.

Dan is daar die EFF wat veld wen omdat hulle (en hulle kiesers) meen jy en die ANC kan nie beloftes nakom nie, Mmusi Maimane wat ‘n Mbeki -tipe leierskap onder jou kiesers probeer vestig, Cyril wat agter jou staan en wag dat jy eendag klaarmaak, die SAL-petalje, en die Gupta’s wat seer sekerlik iets terug wil hê.

Hierdie is maar ‘n paar van die klein jakkalsies wat enige iemand snags sal wakker hou. Dan verstaan mens hoekom jy nie by alles uitkom nie.

Maar vra tog vir jou raadgewers om jou te lei in jou toespraak vanaand om ook aan die volgende aandag te skenk:

Boere

As jy ooit weer by die Universiteit van die Vrystaat kom kuier, lees tog wat op die Landbou-gebou staan. Dit lees: “ ‘n regering wat nie sorg vir sy boere nie, sorg nie vir sy mense nie.” (Dit is nou as Prof Jansen dit nog nie verwyder het nie)

Sekerlik verstaan jy dit.

Ons almal móét eet. Die kos moet van een of ander winkel af kom.

Die winkel moet dit van een of ander fabriek kry.

En die fabriek moet iets van plase af kry.

Dit is ons boere wat dit plant.

Herinner jou raadgewers asseblief dat boere nie ras in ag neem nie terwyl hulle boer nie.

Geen boer dink “ek maak kos net vir wit/swart (of pers) mense nie.” Dit is mors van tyd.  Boere plant, oes, en verkoop.

Die grond wat sommige van jou ministers wil wegvat van boere is die grond waaruit ons gevoed word. As jy dit wegneem (en nie sorg dat daar boere is wat op die dieselfde vlak is die vorige boer kan verbou nie) het ons almal moeilikheid.

Ek weet jy het hoenders op Nkandla, maar nie alle Suid-Afrikaners het sulke hoogsgevorderde hoenderhokke om mee te boer nie. (Terloops, daardie hoenderhokke se mielies word deur boere geplant).

Hier in die Vrystaat (veral) sukkel ons boere.  Hulle sukkel soos boere in ‘n 106 jaar nie gesukkel het nie.

Die droogte het nie net ons landerye en weiveld nie, maar ook boere se siele geskroei. Die bietjie reën wat hulle gekry het en elke aand se Op-die-Knieë-Gaan het hulle gered.

Ja tereg, jou goeie vriend, Ace Magashule, hét geld vir boere in die provinsie beskikbaar gestel.

R39 miljoen.

Dit was nie baie nie, maar ons weet Ace het baie Mercedesse wat hy vir tradisionele leiers moes koop.

Dit daar gelaat.

Groot was baie se verbasing toe ons uitvind dat droogtehulp uit daardie geld net beskikbaar gestel sal word vir opkomende boere.

Die hartseer van die saak is dat boere dit eintlik maar verwag het, en almal het ingespring en mekaar gehelp. Boere van ander provinsies het voer gestuur. Besighede het geld gegee. Die publiek het geld gegee. Vervoer is gereël en party veeboere kon hulle kuddes (net-net) red.

Miskien is daar ‘n les daarin dat ons in moeilike tye, as gemeenskap, weer op ons knië kan gaan en vra vir Hulp en dit gee waar ons kan en moet.

Maar jou en Ace se regering het nie ‘n sent gegee nie. Ek hoop jou raadgewers sal hieroor nadink.

Sê dankie aan die waarnemende polisiehoof, Lt.genl. Kgomotso Phahlane, vir sy aankondiging dat plaasaanvalle nou as voorkeursmisdade geag word.

Werk

Ek weet jy gaan vanaand spog met hoeveel werk jou regering geskep het die afgelope jaar.

Maar, Mnr Zuma, werk binne die regering laat nie ‘n land groei nie.

Blade mag dalk so dink, maar met alle respek, Blade kon nie eers die studente wat hy self geleer het om te betoog, stil kry nie.

Miskien kan Cyril jou help hiermee. Hy was glo ‘n besigheidsman. Hy gaan moontlik vir jou sê dat die werk wat jy binne die regering skep ‘n swaar las op die staat se salarisrekening plaas.

Wat jy eintlik wil hê is dat die regering omstandighede kan skep waarin beide plaaslike en internasionale besighede kan floreer. Die belasting wat jy daaruit genereer gebruik jy dan om infrastruktuur in stand te hou wat beteken dat meer besighede sal wil belê, meer mense werk het, meer belasting gehef kan word, ensovoorts.

Die som is eintlik baie maklik.

Praat ook met en luister na ekonome. Hulle weet waarvan hulle praat.

Moet ook om hemelsnaam nie weer so foutjie begaan soos met die Nene se afdanking nie. Dit was dom. Ja ons almal maak foute, en ek weet jy het dringend daardie ekstra vlugte na Sudan nodig, maar daar is ‘n groter prentjie wat hy hier moet raaksien.

Ons hoop jy het uit jou foute geleer.

Ras

Ek weet jy is nie ‘n rassis nie, mnr Zuma.

Mens kan dit sien uit jou regsverteenwoordiging in die Nkandla-saak. Duidelik het jy gevoel dat jy die bes-moontlike verteenwoordiging nodig het. Jy het regshulp aangestel wat jy meen die beste moontlike diens kan gee en swart of wit was nie ‘n oorweging in jou keuse van regsverteenwoordiging nie.

Die res van Suid-Afrika het ook dieselfde kleurblindheid nodig.

Die Openbare Beskermer

Ek is bly om te sien dat jy uiteindelik toegegee het dat Thuli Madonsela reg was en dat haar besluite bindend is. Dankie dat jy (soortvan) erken dat jy en jou familie, soos sy bevind het, baat by die opknappings by jou huis en dat jy ‘n gedeelte daarvan moet terug betaal.

Onthou, die Openbare Beskermer het ‘n belangrike funksie in Suid-Afrika.

Wat dink jy sal gebeur as die EFF eendag (dalk) regeer en Julius besluit om SARS se geld te gebruik vir sy woning?
(Dit is nou wanneer hy eendag besluit om sy skuld van R 20 miljoen terug te betaal).

Moenie Thuli se bevindings so persoonlik opneem nie. Sy is nie kwaad vir jou nie (ek dink nie so nie).

Sy is kwaad omdat mag erens misbruik is.

Sy wou dit regstel.

Dit is haar werk.

Verder kan ek net sê sterkte vir vanaand.

Suid-Afrika gaan deur moeilike tye. Dit gaan swaar met almal – swart, wit éń pers.

Ons het nou ‘n staatshoof nodig. Iemand wat integriteit het, iemand met ‘n visie, iemand met ‘n ruggraat wat moeilike besluite kan neem tot voordeel van ons land.

Armand Cloete
Bemarkings Bestuurder at Radio Rosestad 100.6FM
Armand Cloete is die doodgewone man op straat wat soos almal verstom staan oor alles wat in die wêreld aangaan. Hy hou van dink en redeneer, soveel so dat dit sommige mense kan frustreer. Armand glo egter deur die regte vrae te vrae, kan jy dalk bietjjie nader aan waarhede kom. Hy was voorheen ‘n aanbieder by Radio Rosestad en tussen deur ook navorser en skakelbeampte by die Demokratiese Alliansie. Armand kon na drie jaar in die politiek nie meer die radio-gogga ignoreer nie en is nou ‘n voltydse politieke verslaggewer.

Pin It on Pinterest

Shares
Share This