Swem Suid-Afrika (SSA) dreig om die drie Bloemfonteinse swemklubs wat ’n mosie van wantroue teen die president van Vrystaat Swem, Deon Dooling, ingedien het, te skors.
SSA het ‘n brief aan Dooling gerig waarin hy skriftelike redes van die drie klubs – Kovsie Aquatics, Seals en Otters – soek oor hoekom hulle nie geskors moet word nie.
Een van die redes wat deur SSA vir ’n moontlike skorsing aangevoer word, is die feit dat die klubs nie ’n noodvergadering, geskeduleer vir 19 Februarie in Bloemfontein, bygewoon het nie.
Netwerk24 berig egter dat die afrigters die enigste verteenwoordigers van die drie klubs was wat na die vergadering genooi is en geen ander rolspelers nie.
Verder word die drie klubs deur SSA op die vingers getik omdat hulle met die media sou gepraat het.
Die klubs het gister ’n antwoord aan SSA gestuur waarin hulle redes aanvoer waarom hulle nie geskors moet word nie.