Vrystaatse opposisiepartye sien rooi oor inhuldigingsgeleentheid vir Ntombela

Vrystaatse opposisiepartye sien rooi oor die inhuldigingsgeleentheid vir die
nuwe premier, Sisi Ntombela, wat glo miljoene rande gaan kos.

Die inhuldiging is vandag in die Vrystaat-stadion en is ook die afskeidsgeselligheid vir haar voorganger, Ace Magashule.

Daar word verwag dat die feesvieringe verkeer erg gaan ontwrig.

Magashule is in Desember tot sekretaris-generaal van die party verkies.

Netwerk24 berig Tiisetso Makhele, Magashule se woordvoerder, het ontken dat die geleentheid R20 miljoen gaan kos, soos beweer word.

Vrystaatse opposisiepolitici sê terwyl die munisipaliteite in die provinsie kreun onder die skuld, doen Magashule ’n beroep op burgemeesters van alle munisipaliteite in die Vrystaat om ondersteuners met busvervoer na die geleentheid te bring.

Intussen het lede van die opposisie in die Vrystaatse wetgewer die nuwe verkose premier, Sisi Ntombela, gewaarsku dat sy met valkoë dopgehou gaan word om te sien of sy die inwoners se belange eerste stel.

Sy is met 21 stemme tot premier verkies.

Vyf stemme is uitgebring vir die DA se premierskandidaat, James Letuka.

Daar was drie bedorwe stembriewe. Tammy Wessels, VF Plus-lid, het aan Ntombela gesê dit is algemene kennis dat sy skoolkinders op slim wyse in die
ANC-politiek ingelei het toe sy nog ’n onderwyseres was en dat sy nie haar
ANC-politiekery met die amp van premier moet verwar nie.

Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie, het gesê dit is goed om ontslae te wees van Ace Magashule en dat die DA die nuwe premier versigtig welkom heet.

Gerdie Karstens
“As jy nie staan vir enige iets nie, sal jy val vir enige iets.”
Gerdie is nie net die aanbieder op Rosestad tussen 09:00 en 12:00 (weeksdae) nie , maar ook sportjoernalis wat spog met 10 jaar ondervinding in sportjoernalistiek by Media 24. Hy is ‘n oudleerling van die Hoërskool Sand du Plessis en het ‘n BA-graad in taalstudie aan UVS ontvang. Gerdie is getroud met Tracey, en hulle twee dogters, Marelize en Elmé

Pin It on Pinterest

Shares
Share This