WIE IS ONS
Radio Rosestad is ‘n moderne gemeenskapsradiostasie wat spontaan uit die geledere van die Afrikanerluisteraars van Bloemfontein ontstaan het. Steun vir hierdie unieke droom het reeds voor 1994 ontstaan toe by ‘n groot groep inwoners van Bloemfontein en omstreke, die ideaal vir ‘n unieke radiostasie vir ons kontrei posgevat het. Die uniekheid van Radio Rosestad lê daarin dat dit in Afrikaans vir die inwoners van Bloemfontein en omstreke, binne ‘n opvanggebied van 100 km, uitsaai.
Die stasie het letterlik uit niks, behalwe ‘n mooi droom, onmeetbare entoesiasme en verbete vasberadenheid, maar met ‘n vaste vertroue op die Allerhoogste ontstaan.
Die grondbeginsels waarop die stasie berus, is dat dit ‘n Christelike, Afrikaanse radiostasie sal wees, ooreenkomstig die beleid, missie en strewes van die stigters van die stasie. Alle programme sal dus ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing uitbeeld. In aansluiting hierby word alle fasette van die Afrikaanse taal en kultuur in ons programme uitgebeeld en uitgebou. Dit sluit die opwindende verskeidenheid elemente in wat die verlede sowel as die hede van die Afrikaner, sy kultuur en sy musiek versinnebeeld. Die personeel en luisteraars wat hulle met dieselfde strewes vereenselwig, sal by Radio Rosestad ‘n luisterervaring beleef waarin hulle tuis sal voel.
Hoewel Afrikaanse musiek die grootste komponent van ons musiek is, saai ons ook volgens die toedeling in ons uitsaailisensie, musiek in Engels en Europese tale uit.
Ons is trots daarop dat Radio Rosestad een van die die eerste gemeenskapsradiostasie in Suid-Afrika was met ‘n goedgekeurde uitsaailisensie.
Radio Rosestad saai onafhanklik deur middel van ons eie seinverspreidingstegnologie uit.